Jagluiperds suksesvol hervestig

Die grootste hervestiging van jagluiperds ooit het onlangs suksesvol plaasgevind onder die vaandel van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe. ‘n Woordvoerder van die trust sê die verskuiwing van 12 jagluiperds met drie vliegtuie uit Suid-Afrika en Malawi na die Zambezi-delta kon plaasvind danksy die Cabela-familietrust, die Ivan Carter-alliansie vir wildbewaring en die Zambezi Delta-bewarings- en teenstropingsorganisasie. Die Liwonde Nasionale Park in Malawi, die Pilanesberg Nasionale Park en die Madikwe-reservaat in Noordwes, die Ashia-organisasie vir die bewaring van jagluiperds, die Mabula-reservaat in Limpopo en die Dinokeng-reservaat by Pretoria het die jagluiperds vir die hervestiging geskenk.