Ja, jou motor se lisensieskyf kan afgevat word

Die Namibiese polisie rig weer ‘n waarskuwing aan padgebruikers om by die verkeersreëls te hou en seker te maak hul voertuie is padwaardig, of hul voertuie se lisensies kan tydelik opgeskort word. In sulke gevalle sal die lisensieskyf verwyder word en die eienaar sal die voertuig binne 14 dae na ‘n gespesifiseerde toetsstasie moet neem, voordat ‘n nuwe lisensie uitgereik word. Wanneer die polisie of verkeerspolisie verder vermoed dat ‘n lisensieskyf vervals is of nie betrekking het op die betrokke voertuig nie, sal daar dadelik beslag gelê word op die skyf. Enige persoon wat betrokke was by so ‘n vervalsing of wanvoorstelling sal gearresteer en krimineel vervolg word. Polisie- en verkeersbeamptes word ook gemaan om nie goedsmoeds lisensieskywe te verwyder nie, maar te hou by die wetlike voorskrifte.