Israel se bomme val twee skole aan

Die amptelike Palestynse nuusagentskap WAFA sê minstens 50 mense is dood in ‘n Israeliese lugaanval wat twee skole getref het waar ontheemdes in die noorde van die Gaza-strook geskuil het. Die aanval het plaasgevind terwyl Israeliese bomme ook op suidelike gebiede van die enklawe gereën het en Israeliese troepe en tenks ‘n veldtog teen Hamas-militante in daardie sektor begin het. Die lugaanval het die Daraj-woonbuurt in Gazastad getref, sê WAFA. Dit was nie onmiddellik moontlik om die verslag onafhanklik te verifieer nie. Vroeër het Israel Palestyne beveel om dele van Gaza se hoofstad in die suide, Khan Younis, te verlaat, maar inwoners sê dat gebiede waarheen hulle aangesê is om te gaan ook onder skoot kom.