Islamitiese Staat verantwoordelik vir bom-aanvalle in Kampala

Die Islamitiese Staat het verantwoordelikheid aanvaar vir gister se twee selfmoord-aanvalle in die Ugandese hoofstad Kampala waarin drie mense dood en talle gewond is. Die drie slagoffers was ‘n polisielid en twee burgerlikes. Die militante groep sê twee van sy vegters het die sentrale polisiestasie in die stad geteiken en ‘n derde die Parlementsgebou. President Yoweri Museveni het gister aangekondig 81 verdagtes is reeds in hegtenis geneem. Die bomaanvalle het gevolg op ‘n soortgelyke aanval in die stad verlede maand waarin een persoon dood en verskeie beseer is.