Is Zuma ontslaan?

Suid-Afrikaanse oudpresident Jacob Zuma se ontslagdatum vanuit die hospitaal sal ’n geheim bly. So sê Mzwanele Manyi, woordvoerder van die Jacob G. Zuma-stigting, nadat Suid-Afrikaanse media by hom navraag gedoen het oor gerugte dat Zuma ontslaan en terug by sy Nkandla-woning is. ’n Ingeligte bron na aan die Zuma-kamp het gistermiddag gesê Zuma is Woensdag kort ná sy korrupsieverhoor in die hooggeregshof in Pietermaritzburg uit die hospitaal ontslaan. Ander bronne na aan Zuma wou egter nie vandag erken of ontken dat Zuma wel weer tuis is nie. Die departement van korrektiewe dienste wou ook nie bevestig of Zuma wel ontslaan is nie, en het media na die Suid-Afrikaanse Weermag verwys. Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die weermag, het Donderdagmiddag gesê ook hy weet nie waar Zuma is nie.