Invoer-rekening sal styg en hier is hoekom…

Daar is twee kwessies wat Namibië se invoer-rekening bedreig. Simonis Storm se ontleding van die handelsyfers wat Dinsdag bekend gemaak is toon dat tot dusver vanjaar, 38 persent van ons invoere vanuit Suid-Afrika kom teenoor 35 persent in dieselfde tydperk verlede jaar. Verder, plaaslike handel met die res van Afrika het vanaf 22 persent se invoere in 2020 tot 2 persent vanjaar gedaal. Die firma meen die toenemende afhanklikheid op Suid-Afrika maak Namibië kwesbaar vir stygende kostes in verband met beurtkrag, die swak rand, plundery deur protesgangers en ander uitdagings in die buurland. Die firma voeg by dat die kostes in verband met verskeping ook sal styg namate firmas in nuwe tegnologie belê om hul koolstof-vrylatings te verminder. In Mei vanjaar het 61 persent van Namibië se ingevoerde goedere per skip aangekom.