Internasionale studie sê ivermektien doen niks vir Covid nie

Navorsing deur ses hoogs gekwalifiseerde dokters en wetenskaplikes van die VSA, Peru en Brasilië op die gebruik van ivermektien as Covid-behandeling is pas deur Oxford-universiteit se drukkery vir die Amerikaanse Vereniging van Aansteeklike Siektes gepubliseer. Streng kontroles is toegepas en plasebos is ook benut in groepe van Covid-pasiënte wat deelgeneem het. Die studie het bevind dat die gebruik van ivermektien in ligte Covid-infeksies glad nie bydra tot verligting in die virale lading nie. Die wetenskaplikes sê verder dat daar ook geen uitwerking was om sterftes te verhoed nie en dit het geen effek op enige nadelige newe-effekte nie. Dus het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat ivermektien nie ‘n lewensvatbare opsie is vir die behandeling van Covid-19 nie.