Ingevoerder eiers knel Namibiese eierprodusente

Die afgelope tyd is Namibiese eierprodusente bedreig deur ’n toestroming van ingevoerde eiers wat ’n opskudding in die plaaslike mark veroorsaak, sê die Namibiese Landbou-unie in hul derde kwartaal se finansiële verslag. Daarbenewens het faktore soos voer- en brandstofpryse ’n uitdaging gebring, en die eiersektor is geen uitsondering nie. Voerkoste maak 60 tot 70 persent van totale koste uit, en vir klein-medium skaal produsente om ’n plek in die mark te kry, moet hulle ’n aansienlike aantal aflewerings doen, wat brandstofkoste verhoog. Gevolglik skep ingevoerde eiers wat teen ‘n goedkoper prys ingevoer word, en meeding met plaaslike eiers wat teen ‘n duurder prys geproduseer word, ’n ongelykheid en probleem vir die plaaslike eierprodusente.