Ingehokte Chinese inwoners kla oor tekorte aan kos 

Die inwoners van Chinese gebiede waar streng Covid-inperkings weer ingestel is, kla oor ‘n tekort aan kos en ander noodsaaklike items. Inwoners sê daar is nie meer meel, rys of eiers oor nie. Tien miljoene mense in minstens 30 streke is ingevolge gedeeltelike of volle inperkingsmaatreëls verplig om tuis te bly. China se nul-Covid-beleid verg streng inperkings, selfs al word net ‘n handjievol gevalle aangemeld. Chengdu, hoofstad van die Sichuan-provinsie, is een van die gebiede wat die swaarste getref is. Die stad met 21 miljoen inwoners is die grootste metropool wat ingeperk is sedert Shanghai vroeër gesluit is.