Inflasie in SA bereik rekord-hoogtes

Inflasie in Suid-Afrika het verlede maand sy hoogste vlak in vyf jaar bereik. Statistiek Suid-Afrika het aangekondig verbruikersinflasie vir Mei was 6,5 persent, wat die boonste perk van die Reserwebank se teiken van ses-persent oorskry. Die opwaartse neiging is hoofsaaklik gedryf deur verhogings in die prys van voedsel en nie-alkoholiese drankies, behuising en dienste, vervoer en allerlei goedere en dienste. Sonneblom-olie is byna 40-persent duurder as ‘n jaar gelede. Pryse het tussen April en Mei ‘n skerp styging van 16,1 persent getoon. Die prys van brood en graankosse het tussen April en Mei met 3,4 persent verhoog, wat die jaarlikse koers tot 8,4 persent neem.