Inbraak by Natis-kantoor op Okahandja

Drie rekenaars is gesteel toe daar by die Natis-kantoor op Okahandja ingebreek is. Volgens Nampol in die Otjozondjupa-streek, het vier onbekende mans na bewering ‘n veiligheidswag wat by die gebou aan diens was, oorval. Sy bene en arms is glo met elektriese kabels vasgebind. Die verdagtes het toe by die Natis-gebou ingebreek, waar hulle drie rekenaars ter waarde van 22 000 Namibiese dollar gesteel het. Die verdagtes het egter nie die kluis oop gesny nie, maar hulle het glo 50 dollar by die wag gesteel. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die woordvoerder van die Paaie-owerheid, Hileni Fillemon, het die voorval aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig.