Imanuwela David se medepligtiges is aangekla, saak duur voort

Die rooftog by President Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildsplaas wil eenvoudig nie uit die nuustoneel, hier en in die buurland, verdwyn nie. Destyds toe Imanuwela David die Oranje-rivier in Junie 2020 oorgesteek het terwyl die land se grense gesluit was, is hy deur ‘n polisiebeampte en die waarnemende Fishcor uitvoerende hoof bygestaan. Die twee, sersant Hendrick Nghede en Paulus Ngalangi, se saak sal in die Noordoewer-landdroshof vanaf 15 tot 19 Augustus voortgaan. Die twee is aangekla onder beide immigrasie en korrupsie wetgewing in die land. In sy verslag daardie tyd, het die voormalige hoof van Nampol se misdaad ondersoeke kommissaris Nelius Becker, wat kort na die aangeleentheid geskuif is na die forensiese eenheid, gesê die twee moet ondersoek word vir enige betrokkenheid met David se aankoms in Namibië. Hy het ook verskeie klagte en ondersoeke voorgestel maar niks is hangende gemaak nie. Die DA in Suid-Afrika het intussen die Amerikaanse FBI gevra om die rooftog te ondersoek, omdat die diefstal in Amerikaanse valuta was.