Huldeblyke vir Tirop

Huldeblyke stroom steeds in vir die Keniaanse atleet, Agnes Tirop, wat gister dood by haar huis in Iten in die weste van die land gekry is. Die 25-jarige is na bewering deur haar man in die nek gesteek. Tirop het bronsmedaljes in die 10 000 meter by die 2017 en 2019 Wêreldkampioenskap verower. Sy het verlede maand geskiedenis gemaak toe sy die jare-lange vroue-wêreldrekord in die tien-kilometer in Duitsland met 28 sekondes verbeter het. Die uitvoerende hoof van Wêreld-atletiek, Sebastian Coe, sê die sport het een van sy blinkste sterre verloor. President Uhuru Kenyatta van Kenia sê Tirop se dood is ontstellend en betreurenswaardig.