Huang kry N$1,6m bevel

Die hofsaak waar die omstrede Chinese besigheidsman Jack Huang die bekende vakbondlid Petrus Nevonga en Christian Itope saam met hul drie se besigheid Jinhao Investments vir 3,7 miljoen Namibiese dollar gedagvaar het, is afgehandel. Waarnemende regter Kaijata Kangueehi het beslis die twee moet elk 800 000 dollar aan Huang terugbetaal. Die drie het die maatskappy gestig en ‘n supermark in Ondangwa oopgemaak. Nevonga en Itope sou 4,8 miljoen dollar belê maar kon nie die geld bymekaar kry nie en Huang het uiteindelik 1,6 miljoen aan die twee geleen. Die geld sou na ses maande betaalbaar gewees het maar is nooit terugbetaal nie. Huang het uit die vennootskap getree in Februarie 2018 en die twee het volgens hom, geweier om hom terug te betaal. Kangueehi het ook 20 persent rente gehef tot die finale betaling gedoen is.