Hospitaal het geen kragopwekker nie

Media het vanoggend berig oor die toekenning van fondse in die ontwikkelings begroting aan die Ministerie van Gesondheid. Vir elke doller wat die regering sal spandeer, sal ‘n halwe sent aan mediese infrastruktuur bestee word. Nou word daar berig dat die staatshospitaal op Khorixas sedert September 2020 geen kragopwekker het nie en personeel moet in die donker werk as daar ‘n kragonderbreking is. Nuusagentskappe berig dat verpleërs genoodsaak is om flitse of selfone te gebruik om pasiënte te behandel. Bestuur is volgens die berigte reeds ingelig. Die grootste kommer is die instandhouding van koel temperature in die lykshuis op die perseel sowel as die vermoë om kos vir pasiënte voor te berei sonder krag. Die Uitvoerende Direkteur in die ministerie, Ben Nangombe het bevestig dat ‘n nuwe opwekker aangekoop moet word en dat daar intussen een gehuur sal word.