Hosea Kutako-lughawe het geen radar nie

Die radarstelsel by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe is stukkend. Die stelsel sukkel reeds ‘n geruime tyd sedert November. Kosmos 94.1 Nuus poog reeds ure lank om die uitvoerende direkteur van die Namibiese Burgerlugvaartowerheid, Toska Sem, aan die hande te kry maar, sy is nie beskikbaar nie. ‘n Deurwinterde en afgetrede lugverkeerbeheerder sê terwyl daar nie onmiddellik enige gevaar is nie, moet die beheerders prosedurele beheer toepas. Sonder radar kan die beheerder nie bepaal wat die presiese ligging van aankomende vliegtuie is nie en moet dan staatmaak op die loods se lesings en dan sy eie berekeninge maak om opdragte te gee oor die landing. Daar moet ook tien minute tussen landings, en vliegtuie wat vertrek, wees. Dit plaas druk op hulle om in een dag van radar na ‘n handstelsel oor te skakel. Maar, daar is nie soveel lugverkeer by die internasionale lughawe nie so die stelsel is moontlik. Daar is kommer oor die algemene swak instandhouding van die stelsels by die lughawe. Die beheertoring was ook vroeër aflyn.