Hoofbron in Trump-Rusland saak in VSA gearresteer

Die hoofbron van die inligting wat vervat is in die dossier oor bedenklike gedrag wat in 2016 oor die gewese Amerikaanse president Donald Trump saamgestel is, is in hegtenis geneem. Dié stap is deel van ‘n uitgerekte ondersoek na die Rusland-saak. Igor Danchenko, ‘n kollega van die voormalige Britse intelligensiebeampte Christopher Steele, is in die noorde van Virginia in hegtenis geneem. Die spesifieke aanklagte teen hom is nog nie bekend nie. Die dossier, wat media die eerste keer net vóór Trump se inhuldiging in 2017 gepubliseer het, het aangedui Rusland het beskuldigende inligting bekom as deel van die Kremlin se poging om Trump by die saak te betrek.