Honderde misdadigers in 18 lande vas oor FBI-toep

‘n Drie-jaar-lange operasie, wat van ‘n FBI-ontwerpte toep gebruik gemaak het, het tot die inhegtenisneming van honderde misdadigers in 18 lande gelei. Dit sluit 220 Australiërs in wat betrokke is by georganiseerde misdaad. Wetstoepassingsowerhede sê die ANOM-toep was een van die boodskapdienste wat gewild onder georganiseerde misdaadbendes is. Die kommunikasie wat op die platform gevind is, het onder meer moordkomplotte, wapenverspreiding en dwelmhandel onthul. Die Australiese eerste minister, Scott Morrison, sê die operasie het misdaadbendes wêreldwyd hard geslaan.