Hof gee regsadviseur aan Dippenaar

Dit wil voorkom asof daar nou beweging in die siviele eis van die Duitse burger Antonia Joschko teen Jandre Dippenaar sal wees. Regter Shafimana Ueitele het advokaat Vanessa Kauta as amicus curiae vir Dippenaar aangestel na hy weer verskyn het sonder regsverteenwoordiging. Kauta is dus ‘n onpartydige adviseur vir die hof in die saak. Joschko dagvaar vir skadevergoeding van 715 000 euro en 500 000 Namibiese dollar na die noodlottige motorongeluk van 29 Desember 2014. Ses mense is dood, insluitend haar ouers en haar suster. Sy het reeds die saak in 2017 hangende gemaak. Dippenaar het sedert die begin van die saak groot uitdagings met regslui gehad en is ook regshulp van die staat geweier. Die saak sal weer op 19 Julie voorkom vir ‘n voorverhoor konferensie.