Herlewing in Namibiese veesektor

Die Namibiese Landbou-unie sê daar is uiters positiewe verwikkelinge in die plaaslike lewendehawebedryf. Die bedryf, wat 60 persent meer produseer as wat plaaslik verbruik word, is afhanklik van uitvoermarkte en die toekoms blyk om rooskleurig te wees. Die heropening van die Farmers’ Meat Market skaapabattoir op Mariental deur Hartlief, met planne om voor die einde van die jaar skaapvleis uit te voer na Noorweë, word met groot opgewondenheid deur skaapboere dopgehou. Die unie voeg by dat die verdubbeling van slagkapasiteit van die Beefcor beesuitvoerabattoir naby Okahandja, tesame met verdere uitbreiding in waardetoegevoegde produkte vir die plaaslike mark, is ook positief. Beefcor het homself reeds bewys in die uitvoermark na Noorweë en Europa. Die unie sê verder dat die suksesvolle uitreik van aandele deur Savanna Beef aan beesprodusente ‘n toonbeeld is van vertroue van produsente.