Hepatitis is verby, ingewandskoors hier

Die Namibiese gesondheidsministerie sal na verwagting vandag die einde van die hepatitis-E uitbreking aankondig sowel as ‘n nuwe uitbreking van ingewandskoors in die hoofstad. Hepatitis-E het in Desember 2017 in die hoofstad begin en uiteindelik landswyd versprei. Intussen sê die ministerie daar is ‘n tekort aan personeel in die Zambezi-streek en daarom die lang rye by gesondheidsinstansies, in veral Katima Mulilo. Berigte lui dat 70 pasiënte by ‘n kliniek op die dorp weggewys is omdat daar geen dokter beskikbaar was om hulle te behandel nie. Talle het redelik ver gereis om behandeling te ontvang. Volgens die ministerie is personeeltekorte van so aard dat wanneer dokters in een afdeling besig is, daar geen diens by buitepasiënte beskikbaar is nie.