Harry gaan kroning van Charles bywoon, sonder Meghan

Prins Harry van Brittanje sal die kroning van sy pa, koning Charles, bywoon maar sonder sy vrou, Meghan. Buckingham-paleis het bevestig die hertog van Sussex het ʼn uitnodiging aanvaar na die geleentheid in Westminster-abdy op 6 Mei. Meghan sal tuis bly in Kalifornië met hulle twee kinders, Archie en Lilibet. Archie word op dieselfde dag vier. Die verklaring beëindig maande se gissings oor die omstrede egpaar se voorgenome planne hoewel Meghan waarskynlik daarvan beskuldig sal word dat sy haar neus optrek vir haar skoonpa en die koninklike familie.