Hangana-perlemoenwerkers se staking duur voort

Volgens die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers, bekend as Nafau, sal werknemers van Hangana se perlemoen-aanleg by Lüderitz staak totdat hul eise deur die maatskappy nagekom word. Sowat 16 werknemers staak sedert verlede week en eis ‘n salarisaanpassing van 750 Namibiese dollar vir die 2022/23-boekjaar per werker en nege maande terugbetaling. Die werknemers eis ook ‘n 600 dollar salarisaanpassing per persoon per maand vir die 2023/24 finansiële jaar en ‘n verdere verhoging van 500 dollar vir die 2024/25 finansiële jaar. Volgens Nafau se streeks-koördineerder in die Suide, Moses Ruben, het Hangana en Nafau verlede jaar met salarisonderhandelinge begin, en in Junie vanjaar het hulle ’n dooiepunt bereik, wat tot die staking gelei het.