Handsak-ontwerper tronk toe oor luislange, kaaimanne
’n 71-jarige Colombiaanse luukse handsak-ontwerper wat skuldig gepleit het op die smokkel van handsakke en beursies gemaak van die velle van beskermde reptiele, is tot 18 maande tronkstraf gevonnis. Nancy Gonzalez, wie se handsakke deur Sex and the City-akteurs, Victoria Beckham en Britney Spears gedra is, het in ‘n federale hof in Miami verskyn. Gonzalez het familielede ingespan om handsakke en beursies van Colombië na Amerika te bring, sonder die nodige permitte. Die sakke was gemaak van die velle van luislange en kaaimanne, wat soortgelyk is aan alligators, en daar word permitte benodig vir produkte van hierdie diere.