Handleiding vir gifstowwe, plaagdoders deur NLU bekend gestel

Die bevordering van veilige en verantwoordelike gebruik van gifstowwe en plaagdoders is nie net plaaslik belangrik nie, maar is wêreldwyd relevant. Die Namibiese Landbou-unie sê om wettig te wees, moet alle stowwe ’n Namibiese registrasienommer hê en moet die produk met ’n gestandaardiseerde Namibiese produketiket voorsien word. Die unie sê Namibië staan nie alleen met die noodlottige gevolge van onverantwoordelike gebruik van giwwe nie, of die doelbewuste en katastrofiese vergiftigings van wilde en mak diere nie. Toepaslike wetgewing tesame met publieke kennis oor verantwoordelike gif- en plaagdoderhantering en -gebruik sal mense en die omgewing se gesondheid beskerm. Dus het die unie ‘n handleiding oor plaagdoders, voorgeskrewe produketikette, veilige hantering, simptome van vergiftiging, asook riglyne vir die aantekening, monsterneming en rapportering van vergiftiging, bekend gestel.