Handelstekort verminder, aangedryf deur diamante, vis

Namibië se handelstekort het in Junie op 1,4 miljard Namibiese dollar ingekom teenoor 2,8 miljard dollar wat in Mei vanjaar aangeteken is. Suid-Afrika is steeds die land se belangrikste vennoot, vir beide invoere en uitvoere. Soos gewoonlik, is diamante, nie-monetêre goud, uraan, koper en vis die top kommoditeite. Heruitvoere het baie goed vertoon en het op ‘n maandelikse basis met amper 21 persent gegroei. En die kommoditeit van die maand – rys – toon dat Namibië 18,8 miljoen dollar se rys ingevoer het. Daar is kommer oor rysvoorrade sedert Indië ‘n verbod op alle nie-Basmati-rys geplaas het, met die Verenigde Arabiese Emirate wat ook ‘n totale verbod op alle rys-uitvoere geplaas het.