Handelsbulletin van April toon afname
Vir die maand van April het Namibië se uitvoerverdienste op 5,5 miljard Namibiese dollar gestaan, wat ‘n afname van 36,4 persent op ‘n maandelikse basis is. Invoere het 8,8 miljard dollar beloop wat ‘n daling van 5,2 persent maandeliks is, volgens die handelsbulletin van April van die Namibiese Statistiek Agentskap. Dit het gelei tot ‘n handelstekort van 3,3 miljard dollar en vergeleke met Maart 2022, het die handelsbalans met 433,9 persent versleg. Dr. Omu Kakujaha-Matundu van die departement ekonomie aan die Universiteit van Namibië is van mening dat dinge erger sal raak, omdat die wêreldekonomie nog nie herstel het nie.