Hamdok in sy amp herstel

Die leiers van die militêre staatsgreep in Soedan, het die eerste minister Abdalla Hamdok in sy amp herstel en gaan alle politieke aangehoudenes onder ‘n nuwe ooreenkoms vrylaat. Hamdok wat in huisarres was na verlede maand se staatsgreep, het gister ‘n nuwe ooreenkoms oor magsdeling met die leier van die staatsgreep, generaal Abdel Fattah al-Burhan, onderteken. Nagenoeg 40 mense is dood in betogings teen die staatsgreep. Die Verenigde Nasies en Amerika het volgens berigte ‘n groot rol in die opstel van die ooreenkoms gespeel. Dis nog nie bekend hoeveel mag Hamdok en sy kabinet sal hê nie.