Guterres beroep hom op Artikel 99 oor Gaza

Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, het lede van die Veiligheidsraad gewaarsku die humanitêre stelsel in Gaza kan ineenstort en maan hulle om ʼn ramp af te weer. Hy beroep hom op Artikel 99 van die VN-handves wat hom toelaat om enige saak wat internasionale vrede en sekuriteit bedreig onder die raad se aandag te bring. Guterres sê dis die internasionale gemeenskap se verantwoordelikheid om al sy invloed te gebruik om te keer dat die krisis vererger deur dit eerder te stop. Hy het sy versoek herhaal dat ʼn humanitêre skietstilstand afgekondig word.