Gru-ontdekking by Karasburg gemaak

Die Namibiese polisie in die Karas-streek het bevestig ‘n paartjie van die plaas Swartberg naby Karasburg is in hegtenis geneem nadat die liggaam van hul vier maande oue babadogtertjie in ‘n vlak graf gevind is. Die ouers is tans in aanhouding by die polisiestasie op dié Suide-dorp. Volgens Nampol het hul werkgewer opgemerk die babameisie is nie meer by hulle nie. Die paartjie het glo aangevoer dat hulle haar na familie in die Noorde gestuur het. Die hulp van die polisie is ingeroep en hul ondersoek het gelei tot dié gru-ontdekking. Die meisie is glo reeds in November begrawe. Die polisiebevelvoerder van die Karas-streek, kommissaris Marius Katamila het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat.

Intussen was twee Nampol-lede onderweg na die plaas in ‘n ongeluk betrokke. Die bestuurder van die voertuig, ‘n sersant, is in die Karasburg-hospitaal opgeneem met kopbeserings en gebreekte been, terwyl die vroulike konstabel reeds ontslaan is.