Gru-ongeluk: Dooies uitgeken, Nampol sê busdrywer het fouteer

Die Namibiese polisie het die vyf mense, insluitend twee kleuters van onderskeidelik twee en drie jaar oud, uitgeken wat dood is in die kop-aan-kop-botsing waarby ‘n Iveco-bus en ‘n sedan-voertuig Sondag tussen Tsumeb en Otavi betrokke was. Een van die slagoffers is ‘n polisievrou van die Otjiwarongo-polisiestasie, die 35-jarige konstabel Flora Sheendelwako. Al die slagoffers was passasiers in die sedan-voertuig. Volgens die woordvoerder van Nampol, adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi, het 10 mense van die Iveco-bus, wat 21 insittendes gehad ten tyde van die ongeluk, beserings opgedoen, insluitend die 30-jarige manlike bestuurder. Die bestuurder van die sedan-voertuig is ook beseer, wat die totaal beseerdes op 11 te staan bring. Die polisie sê die Iveco-bus het ‘n motor verbygesteek en in die sedan vasgejaag. ‘n Klag van strafbare manslag is teen die bestuurder hangende gemaak.