Grootste aanval nog dood 31 in Oekraïne

Rusland het sy grootste lugaanval nóg in die Oekraïnse oorlog geloods en 31 burgerlikes gedood, 160 ander gewond, en stede en ander infrastruktuur oral in die land getref. Skole, ‘n kraamhospitaal, winkelsentrums en woonstelblokke is onder meer in die sarsie getref. Oekraïne sê Rusland het ‘n geraamde 158 missiele en hommeltuie afgevuur waarvan 114 vernietig is. Die aanvalle, waartydens ‘n Russsiese missiel ook deur die Poolse lugruim beweeg het, het weer internasionale veroordeling ontketen, en gelei tot nuwe beloftes van militêre steun aan Oekraïne, wat sedert Februarie 2022 teen Russiese troepe in ‘n stryd gewikkel is.