Grootfontein-boerin doen môre aansoek om borg

Die 65-jarige kommersiële boerin, Magriete Wilhelm, sal môre om borg in die Otavi-landdroshof aansoek doen. Sy is verlede week Woensdag in hegtenis geneem nadat sy op haar plaas, Fokshof, ,ongeveer 100 kilometer buite Grootfontein, die 31-jarige Sakaria Kaandje doodgeskiet het. Kaandje se familie het hom reeds die naweek uitgeken en die Namibiese polisie sê die nadoodse ondersoek toon dat hy drie keer in die kop geskiet is. Wilhelm het Vrydag verlede week reeds verskyn en haar saak is tot 5 April uitgestel. Luidens Nampol het sy ongeveer vyf-uur Dinsdagoggend verlede week kos gevat om haar honde buite die huis te voer, en op die man afgekom wat met ‘n stok gestaan het. Die man het na bewering dié stok gebruik om haar op haar voorkop te slaan. Sy het teruggeveg deur verskeie kere op hom te skiet met ‘n rewolwer wat sy gedra het. Die polisie sê dit is nie duidelik hoe die Kaandje toegang tot die plaas of plaashuis gekry het nie aangesien daar geen voetspore of tekens van gedwonge toegang om die heining was nie.