Groot voedselprojekte by Korrektiewe Diens van stapel gestuur

Die Namibiese Korrektiewe Diens het ‘n gesamentlike projek met die Wêreld Voedselprogam aangekondig. Die diens vorder uiters goed met voedselproduksie by verskeie van sy aanlegte regoor die land maar dié projek sal die pogings ‘n vedere hupstoot gee. Hidroponiese projekte sal op Gobabis, Oluno, Walvisbaai en Windhoek gevestig word by fasiliteite vir vroulike gevangenes. Die voedselprogram het ook 8 ton koringsaad aan die diens verskaf vir aanplantings by sy Divundu, Evaristus Shikongo en Hardap fasiliteite. ‘n 10-hektaar spilpunt besproeiingstelsel, aangedryf deur 42 sonkrag panele is op Hardap opgerig. Toekomstige planne sluit 250 hektaar aanplantings van koring, mielies en groente in die Kunene-streek. Die hoof van die diens, kommissaris-generaal Raphael Hamunyela, sê die doel is selfgenoegsaamheid in voedselproduksie. Waarde-toevoeging sal ook in die toekoms onder die loep kom.