Groot Koraalrif weer deur massa-verbleiking bedreig

Australiese amptenare het bevestig die land se beroemde Groot Koraalrif word bedreig deur nog ‘n massa-verbleikings-gebeurtenis. Dit is die vierde keer in ses jaar dat sulke erge en wydverspreide skade bespeur word. Verbleiking vind plaas wanneer korale wat onder stres verkeer, die alge uitlaat wat binne in hulle leef en hulle kleur en lewe gee. Warm seetemperature veroorsaak die verskynsel. Wetenskaplikes sê dringende optrede oor klimaatverandering is nodig vir die voortbestaan van die wêreld se grootste koraalrifstelsel.