Groenwaterstof: Duitsers oorweeg N$182 miljard-lening

Duitsland oorweeg dit om hulp van 182 miljard Namibiese dollar aan Namibië  se waterstofprojek te verleen. Na wat berig word is Duitsland se staatsondersteunde ontwikkelingsbank KfW tans in gesprek met die Namibiese regering en Hyphen Hydrogen Energy, ‘n gesamentlike onderneming tussen Nicholas Holdings van die Verenigde Koninkry en ENERTRAG van Duitsland, wat in November as die voorkeurbieër vir die land se eerste groenwaterstofprojek gekies is, oor ‘n moontlike staatswaarborg of lening. Ongeveer 190 miljard Amerikaanse dollar, of 3,26 triljoen Namibiese dollar, sal teen 2040 nodig wees om planne te implementeer vir Namibië om Afrika se eerste groenwaterstofprodusent en -verskaffer te word. Die projek, wat naby Lüderitz geleë sal wees, sal son- en windkrag gebruik vir die vervaardiging van groen waterstof wat dan in ammoniak omskep en na Duitsland verskeep sal word. Lande in Europa en veral Duitsland haas hulle om alternatiewe energiebronne van regoor die wêreld te bekom ná ‘n tekort aan Russiese pyplyngas ná die inval in die Oekraïne.