Groenskema vra kwartaallikse kleinkas-kontant van N$30 000

Die Sikondo-groenskema sukkel met ‘n toename in onklaarrakings van trekkers wat volgens berigte verouderd is. Die skema, in die Kavango Wes-streek, verbou verskeie gewasse en het ook ‘n steekproef met aartappels. Die bestuurder, Maxwell Nghidinua, sê instandhoudingskoste styg skerp en vertraag ook produksie omdat onderdele en meer, lank vat om die skema te bereik. Somtyds moet alle aktiwiteite vir twee weke wag omdat trekkers gebreek het. Die voorsitter van die Kavango Wes-streeksraad, Joseph Sivaku, het ‘n beroep op die landbouministerie gedoen om dieselfde stelsel wat by skole is, by groenskemas te implementeer. Skole kry 100 000 Namibiese dollar in ‘n kleinkas vir gebruik en volgens Sivaku, sal groenskemas baat vind by so program waar 30 000 dollar kwartaalliks aan groenskemas beskikbaar gestel word vir gebruik. Groenskemas in die land was onlangs in die nuus as gevolg van swak produksie en onderprestasie.