GRN gaan groot met voertuig-aankope

Kabinet het 25 miljoen Namibiese dollar goedgekeur vir die aankoop van 32 voertuie vir die res van die huidige boekjaar, ten spyte van die vyf-jaar moratorium wat eers einde volgende jaar sou eindig en in 2020 deur president Hage Geingob aangekondig is. In die vorige boekjaar is eers 29,7 miljoen dollar begroot en dit is verhoog na 180 miljoen dollar vir die huidige finansiële jaar. Volgende jaar word 184,2 miljoen dollar verwag en vir die jaar daarna, 195,7 miljoen dollar. Daar word berig die besteding is nodig om operasionele doeltreffendheid te verbeter. In November het die eerste minister Saara Kuugongelwa Amadhila en haar adjunk, Netumbo Nandi-Ndaitwah elk ‘n nuwe voertuig ontvang met ‘n totale besteding van 4 miljoen dollar. Die Tender Bulletin berig dat geen tenders in 2023 deur die ministerie van werke en vervoer openbaar geadverteer is nie.