GRN-bestuurder handig homself oor, dag na hy ongelukstoneel vlug

Die Erongo-polisie ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur sowel as klagte dat die ongelukstoneel verlaat is sonder om te bepaal of daar beserings was, na Donderdag se ongeluk op die Narraville-Kuisebmond brug by Walvisbaai. ‘n Regering-Mercedes Benz met nommerplaat GRN 81730 het blykbaar ‘n voertuig verbygesteek en van voor met ‘n Audi gebots. Die Mercedes is in ‘n palmboom in vas. Die bestuurder in die Audi het ongedeerd daaravan afgekom maar twee passasiers in die regeringsvoertuig is lig en ernstig beseer. Die bestuurder het die toneel gevlug en homself Vrydagoggend ses-uur aan die polisie oorhandig. Daar is geen arrestasie gemaak nie en die ondersoek duur voort. Onbevestigde berigte lui dat die bestuurder betrokke is by die Hardap-streeksraad.