Grens-riviere vertoon goed, Ruacana ook

Die Hidrologiese Diens van Namibië waarsku dat die watervlak van riviere op die landsgrense steeds styg en dat vloedrisiko-gebeurlikheidsbeplanning in vloedgevoelige streke geaktiveer moet word. Gemeenskappe wat in vloedgevoelige gebiede woon, moet waaksaam wees en voorsorgmaatreëls tref. Die watervlakke van beide die Zambezi- en Kavango-riviere is op onderskeidelik 1,33 meter en 5,15 meter hoër as in dieselfde tydperk verlede jaar. Die vlak van die laer Oranjerivier is op 2,14 meter gemeet. Die Kunenerivier by Ruacana vloei teen 333,8 kubieke meter per sekonde, wat dubbel die vloei is as op dieselfde tyd verlede jaar.