Gratis water veroorsaak groot uitdagings vir NamWater

Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling Erastus Uutoni het onlangs aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat die opdrag dat munisipaliteite en dorpsrade gratis water aan inwoners moet verskaf, steeds van krag is. Hy het bygevoeg dat inwoners wat water kan betaal, dit moet doen. Dit volg na die aankondiging deur die hoof van NamWater Abraham Nehemia, dat hy ‘n miljard Namibiese dollar geskuld word. Nehemia het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig in Maart 2020, toe die opdrag vir gratis watervoorsiening gegee is, dat NamWater graag dit sal doen, maar, dat die water nie gratis aan dorpsrade en munisipaliteite verskaf sal word nie. NamWater het reeds voorafbetaalde water by verskeie dorpe in werking gestel as gevolg van uitermatige hoë skuld. NamWater het ook alle rente in die afgelope twee jaar opgehef om plaaslike owerhede by te staan. Die watervoorsiener sukkel ook met infrastruktuur en onlangs het die toevoerpyp tussen Okahandja en Windhoek twee keer gebreek. Die stelsel wat water vanaf Swakoppoort na Von Bachdam toe pomp is ook stukkend.