Graad 12-uitslae vertoon baie sleg, amper ‘n derde druip

Die Namibiese minister van onderwys Anna Nghipondoka het meer besonderhede bekend gemaak in verband met die uitslae van die net meer as 40 000 leerders wat die standaard-graad senior sekondêre sertifikaat geskryf het. Uitslae vertoon swakker as verlede jaar. Eerstens het 3,6 persent minder leerders die eksamens voltooi met 28 persent wat ongegradeer is, of, gedruip het. Van dié was die meerderheid in Engels met 56,6 persent wat die vak gedruip het. Amper 40 persent het rekeningkunde gedruip. Die minister sê oor die algemeen het die groepering van rekeningkunde, ekonomie en besigheidstudies swak gevaar met meer as 30 persent van leerders wat gedruip het. Sy het ook haar misnoeë uitgespreek oor 16 594 deeltydse kandidate wat nie opgedaag het vir een of meer vraestelle nie.