Gibeon-dorpsraad hoor môre oor sy appèlsaak 

Die hooggeregshof sal môre uitspraak lewer in die appèlsaak van die Gibeon-dorpsraad teen die Namibiese Ontwikkelingsbank. Die raad appelleer teen die 2019 beslissing van die hoërhof dat nege van sy voertuie opgeveil kan word na ‘n kontrakteur, waarvoor die raad borg geteken het, nie sy lening van 3,5 miljoen Namibiese dollar by die bank kon betaal nie. Die kontrakteur, Aldrin Brinkman, het ‘n 9 miljoen dollar boukontrak by die raad ontvang en dus, die lening geneem in die 2015-2016 boekjaar. Daardie tender was vir die raad se nuwe gebou en later is nog een toegeken, ter waarde van 2,5 miljoen dollar vir die teer van ‘n grondpad. Die hoërhof het beslis dat die dorpsraad te laat sy kennisgewing vir verdediging teen die verstekvonnis ingedien het. Dit moes 20 dae na kennisgewing gedoen word en dit is eers 68 dae later ingedien by die  hof. Die raad het in die hooggeregshof geappelleer.