Gholf: Uitnodiging na verkeerde speler gestuur

Die Amerikaanse gholfspeler, Scott Stallings se uitnodiging om aan die PGA-meestertoernooi in Augusta, in Georgia te speel, is volgens berigte by die verkeerde Scott Stallings afgelewer. Die professionele gholfspeler, Stallings, is tans 54ste op die wêreldranglys. Sy naamgenoot het hom op Twitter gekontak, en ‘n foto gestuur van die uitnodiging. Volgens die ander Stallings speel hy ook gholf, maar nie naastenby op dieselfde vlak as die professionele Stallings nie. Die sportman sê hy wag al die afgelope paar dae angstig vir die uitnodiging. Die vermoede is dat die twee Scott’s, wat albei met Jennifers getroud is, en in die suide van Amerika woon, die organiseerders deurmekaar gemaak het.