Gestremdes op Tsumeb kry hulp en hoop

Om behoorlike sorg en ondersteuning te gee aan mense wat met gestremdhede leef, het die Namibiese gesondheidsministerie die Hope Tuisgebaseerde Gesondheidsorgsentrum, sowel as ‘n mobiele kliniek by Tsumeb gevestig. In die meeste gevalle benodig mense met gestremdhede bystand wat nie almal kan bied nie. Eglien Uises het die Hope-gesondheidsorgsentrum in 2016 begin om mense by te staan wat met gestremdhede leef. Die Hope-program het tien versorgers in diens, wat betaal word deur die Oshikoto Tulimevava Trust. Versorgers gaan deur-tot-deur en lewer kos en toiletware by gestremdes af. Daarbenewens is ‘n mobiele kliniek nou ook beskikbaar om primêre gesondheidsorg, diagnose en behandeling te verskaf. Die adjunkminister van gesondheid, dr. Ester Muinjangue, sê palliatiewe sorg is van uiterste belang. Walters Kamaya, woordvoerder van die gesondheidsministerie gesels met Kosmos 94.1 Nuus.