Gesondheidsministerie: Wag vir uitslae oor pampoentjies

Die Namibiese gesondheidsministerie het bevestig ‘n uitbreking van pampoentjies word in die Swakopmund-distrik in die Erongo-streek vermoed. Volgens die gesondheidsministerie is 26 gevalle van pampoentjies in die Swakopmund-distrik aangemeld, waarvan 20 gevalle in Swakopmund en drie gevalle elk in Arandis en Hentiesbaai. Monsters is van 11 gevalle geneem en daar word vir die toetsuitslae gewag. ‘n Uitbreking sal bevestig word as drie of meer gevalle positief toets. Die woordvoerder van die ministerie, Walters Kamaya, sê aan Kosmos 94.1 Nuus daar moet eers vir die uitslae gewag word.