Gerugte oor staatsgreep in China is fopnuus

Dit gons in China en Indië met gerugte dat Chinese President Xi Jinping onder huisarres geplaas is en dat sy land in die middel van ‘n militêre staatsgreep is. Beide Xi en die hutsmerk ChinaCoup is wyd op sosiale media versprei. Maar, die gerugte word nie deur betroubare bronne bespreek nie. Daar word gesê dat 6 000 vlugte vanaf Beijing gekanselleer is en dat alle treindienste opgeskort is. Beijing se lughawe se webwerf wys wel dat verskeie vlugte uit China se hoofstad gekanselleer is; maar baie ander is nog geskeduleer of het reeds geland. ’n Video wat wyd op Twitter gedeel is wys ook ’n ry militêre voertuie van tot 80 kilometer lank wat na Beijing op pad is te midde van berigte van ’n militêre staatsgreep, maar die video kan nie bevestig word nie. Die gerugte kom vanaf Twitter-gebruikers in Indië. In ‘n reeks twiets het Drew Thompson, ‘n voormalige Amerikaanse amptenaar van die departement van verdediging vir China, Taiwan en Mongolië, die gerugte as fopnuus beskryf.