Gemeenskappe langs Chobe-, Kwando-, Linayantirivier leef in vrees

Gemeenskappe in die Zambezi-streek wat langs die riviere van Chobe, Kwando en Linyanti bly, vrees altyd vir hul lewens en het hul sin vir nasionale sekuriteit verloor weens die intimidasie van die Botswana-weermag. Dit het ‘n impak op hul lewens en lewensbestaan, want hulle is te bang om vis te vang of hul diere te laat wei. Dit is volgens ‘n verslag van die Nasionale Raad se komitee oor binnelandse sake, sekuriteit, en grondwetlike en regsake wat vandag ter tafel gelê is. Die komitee het tussen 20 September en 6 Oktober 23 openbare vergaderings gehou en 32 geskrewe voorleggings van gemeenskappe in die Zambezi-streek ontvang. Toerisme in die streek is ook geraak.