Gelykheid: vroue moet deelneem aan ekonomie

President Cyril Ramaphosa sê indien Suid-Afrika gelykheid tussen mans en vroue wil bereik, moet vroue se volle deelname aan die ekonomie verseker word. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die eerste Vroue Ekonomiese Vergadering wat later die week in Gauteng plaasvind, is deel van die regering se nasionale planne om dit te verander. Ramaphosa sê die vergadering sal oorweeg hoe voorsieningskettings gebruik kan word om ondernemings in vroue se besit te bevoordeel, die beleidshindernisse vir die ekonomiese bemagtiging van vroue aan te spreek, en toegang tot finansiering van ondernemings in vroue se besit, veral in landelike gebiede, te verbeter.