Gelekte dossier onthul glo ongerymdhede by TransNamib

Die nou ontbinde ministerie van staatsondernemings of die TransNamib-raad moet dit oorweeg om dissiplinêre stappe in te stel teen werknemers en uitvoerende beamptes wat nie aan hul prestasie-aanwysers voldoen het nie. Die aanbeveling is vervat in ‘n uitgelekte dossier wat deur ouditfirma, Ernst en Young saamgestel is, berig Nampa. Die forensiese verslag lê ‘n magdom onreëlmatighede by TransNamib bloot. Verlede jaar is berig dat reuse-salarisse aan nie-presterende bestuurders een van die groot kwessies was. Elke bestuurder gaan glo huis toe met nie minder nie as 100 000 Namibiese dollar in maandelikse salarisse, ‘n voertuigtoelaag van 15 000 dollar en 6 000 dollar brandstoftoelae. Die bestuurders is ook prestasiebonusse betaal. Dit is ten spyte van die feit dat daar geen prestasiebestuurstelsel in plek is nie. Ernest en Young wil hê dat die TransNamib-raad hierdie bestuurders moet ondersoek.